. . .
  • Southdowns Ridge Office Park 1240 John Vorster Dr, Irene, 0062
  • (+27) 12 111 8360
  • 046-086-NPO

Solidariteit Helpende Hand se skokkende dokumentêr

Solidariteit Helpende Hand se skokkende dokumentêr nou gratis aanlyn beskikbaar                      

Grafiese tonele belig die werklikheid van tot 90% van blanke bedelaars se motiewe

Solidariteit Helpende Hand se nuwe dokumentêr, Bedwelmd, belig die verskriklike wêreld van dwelms en die verwoesting wat verslawing daaraan teweeg bring. Die dokumentêr bestaan uit gesprekke met gerehabiliteerde dwelmverslaafdes en hul geliefdes wat dié tragedie tot in die kyker se sitkamer bring. Bedwelmd is daarop gemik om die publiek bewus te maak van die gevare wat onnadenkende liefdadigheid vir bedelaars op straat inhou. Die dokumentêr is op 21 April in die Atterbury Teater in Pretoria bekendgestel en is vanaf 22 April beskikbaar op www.geereg.co.za.

In ‘n kwalitatiewe studie wat deur Helpende Hand onderneem is het respondente beweer dat tot 90% van blanke bedelaars aan dwelms verslaaf is. Die ervare joernalis, De Wet Potgieter, het die kameraspan na die donker onderwêreld, waarin bedelaars leef, geneem. Die kykers kan eerstehands sien hoe die lewe op straat lyk en hoe van die mense uit die siklus van verslawing ontsnap het.

Daar word onderhoude gevoer met Ado en Michael Krige, wat aan die hoof staan van House Regeneration Rehabilitation Centre, sowel as met Jacques Papenfus van die Moeggesukkel-rehabilitasiesentrum. Die dokumentêr bevat ook gesprekke met rehabiliterende en gewese dwelmverslaafdes, sowel as ’n ouerpaar wat hul hartroerende stryd met die dwelmverslawing van hul seun deel.

Helpende Hand se 150 takke het met meer as 250 van Solidariteit Helpende Hand se personeel, vrywilligers en ondersteuners landswyd op straathoeke en by verkeersligte reg oor die land gaan staan en bedel hierdie week met onkonvensionele gesegdes op kartonborde.

Helpende Hand wys die publiek daarop dat ten spyte van wat op die kamma bedelaars se borde staan, verbygangers steeds geld gee en dit te midde van die kontroversiële versoeke op die kartonborde.

“Wanneer die publiek aan bedelaars op straat geld gee, verkeer mense onder die wanindruk dat die geld vir lewensmiddele soos voedsel en kleding aangewend gaan word. Min mense besef egter die skade wat hulle aanrig deur geld vir bedelaars te gee,” sê dr Danie Brink, uitvoerende hoof by Solidariteit Helpende Hand. “Die grafiese tonele in Bedwelmd is daarop gemik om die harde werklikheid van dwelmverslawing bloot te lê.

Helpende Hand glo dat skenkings eerder aan betroubare instansies gemaak moet word wat hulle daarop toespits om armes by te staan. Die geld wat bedelaars by verkeersligte en ander openbare plekke kry word meestal vir dwelms gebruik. Die organisasie ontmoedig mense om by verkeersligte geld aan bedelaars te gee aangesien die geld bloot hulle verslawing voer. Die studie het aangedui dat die oorgrote meerderheid verslaafdes hulp wil hê om hul verslawing te beëindig, maar dat hulle gespesialiseerde hulp nodig het.

Indien u meer inligting soek oor die #geeREG-veldtog, skakel gerus vir Lizelle Joubert, projekorganiseerder by Helpende Hand, op 012 644 4390 of stuur ’n e-pos na lizelle@helpendehand.co.za.