. . .
  • Southdowns Ridge Office Park 1240 John Vorster Dr, Irene, 0062
  • (+27) 12 111 8360
  • 046-086-NPO

Engeland hou skaapbraai om geld in te samel vir Kosblikkieprojek

ʼn Groep Suid-Afrikaners in Kent, Engeland het aan die begin van Mei ʼn stukkie van Suid-Afrika by hulle gehad. Hulle het ʼn spesiale skaapbraai gereël om lede van die Solidariteit Beweging te bederf en om fondse in te samel vir Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkieprojek.

Hierdie skaapbraai is die breinkind van Simon du Plooy en Ben Earle. Toe hulle hoor Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en Alana Bailey van AfriForum kom in Engeland besoek aflê, het hulle planne beraam vir dié skaapbraai.

Pieter en Mariaan de Lange het hand bygesit en ʼn prentjiemooi plattelandse dorpie se krieketklubhuis gehuur vir die fees. Suid-Afrikaners in Engeland is genooi om saam te kom kuier en sowat sestig volwassenes en ʼn skare kinders het opgedaag om die dag saam te geniet. 

Net na vier die middag het Buys meer vertel oor die werksaamhede van die Solidariteit Beweging se instellings – insluitend Helpende Hand – en Alana het hulle genooi om deel van AfriForum se Wêreldwyd-familie te word.

Met die verhale oor kinders se swaarkry nog vars in die geheue en die heerlike borde Boerekos voor hulle, het almal die kans aangegryp om iets vir minderbevoorregte Suid-Afrikanertjies te doen. Daar is net daar besluit om geld in te samel vir Helpende Hand se Kosblikkieprojek. Aan die einde van die dag het hulle met die braai R13 000 in kontant ingesamel wat aan Helpende Hand oorbetaal is.

As jy of jou familie graag Suid-Afrikaners wil ondersteun besoek ons webtuiste by www.saffashelp.com en help ons om hulle te help. Jou hart is by die huis!

Vir meer inligting oor die SaffasHelp projek skakel gerus die projekorganiseerder Lizelle Joubert by lizelle@helpendehand.co.za.