. . .
  • H.V. DF Malan & Eendracht Straat, Kloofsig, Centurion
  • (+27) 12 644 4390
  • 046-086-NPO

72.1% van Afrikaanse wiskunde onderwysers nie tevrede met kwaliteit van DBO se professionele ontwikkeling nie

Skokkende statistiek wys hoe die departement van basiese onderwys (DBO) faal in een van sy kerntake – naamlik om onderwysers te bemagtig deur kwaliteit opleiding.

Luidens ’n verslag van Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) is 72.1% van Afrikaanse wiskunde onderwysers, as respondente in ’n studie oor die professioneel ontwikkeling van Afrikaanse onderwysers, van mening dat dat die professionele ontwikkeling-sessies wat deur die DBO se provinsiale en distrikkantore gereël word van ’n swak kwaliteit. Hierbenewens het ’n groot persentasie, 53%, gemeld dat dit nie die moeite werd is om hierdie sessies by te woon nie.  Hierdie onderwysers is almal lede van die SOS se vakvereniging vir wiskunde, die Vereniging vir Afrikaanse wiskunde-onderwysers (V.A.W.).

Volgens dr Danie Brink, hoof uitvoerende beampte van Helpende Hand, dui hierdie verslag op die leemtes wat daar bestaan in die huidige onderwysstelsel vir professionele ontwikkeling en bevestig terselfdertyd ook die belangrikheid van nie-regeringsorganisasies om in te staan op hierdie gebied.

“Wanneer ’n groep skole wat slegs 5,3% van alle skole in Suid-Afrika beslaan meer as 28% van die land se wiskunde onderskeidings behaal, weet jy dat jy te doen het met wêreldgehalte wiskunde-onderrig. Die verhouding van die aantal onderskeidings per skool is meer as 500% beter by Afrikaanse skole as by die res van Suid-Afrika se skole. Dit dui gewis daarop dat daar ’n groot behoefte vir die ontwikkeling van die vakkennis en oordrag van wiskundige vaardighede by die res van die skole lê”, het Brink gesê.

Die verslag toon verder dat 69,3% van respondente professionele ontwikkeling noodsaaklik ag vir vooruitgang in onderwys, en dat 80% van onderwysers ’n behoefte het vir leierskapopleiding maar 54% bevestig het dat daar slegs minimale of geen geleenthede geskep word vir sulke opleiding nie.

Brink, self ’n spesialis op die gebied van professionele ontwikkeling, het gesê dat navorsing reeds bewys het dat die professionele ontwikkeling van onderwysers tot verbeterde onderwyserleer en verhoogde leerderprestasie lei: “Die SOS glo dat onderwysers die grootste beduidende uitwerking op leerderprestasie uitoefen en daarom fokus die SOS op die uitbreiding van hul vakkennis. Sodoende verseker ons dat die groep onderwysers wat reeds van wêreld gehalte is, op die voorvoet van innoverende onderwys bly. Ons kan beslis nie op die staat reken om sy pligte na te kom in die verband nie en daarom skep ons instellings om hierdie saak te dryf ”.

Die Suid- Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) is die professionele raad vir opvoeders wat daarop gemik is om die status van die onderwysberoep te bevorder deur die Professionele Ontwikkeling en inskerping van ‘n etiese kode vir alle opvoeders  te bestuur. Vir die finansiële jaar 2015/6 het SARO  ’n inkomste van ongeveer R60 miljoen per jaar. Daarbenewens betaal Suid-Afrikaanse onderwysers R200 vir die opleiding en buitelandse onderwysers moet R400 opdok vir die opleiding.

Hugo Vermeulen, hoof van die SOS, het tydens die instelling se Noordwes Kongres uitgelig dat hul inisiatiewe daarop gemik is om die onderwyser se kennis van pedagogiek en metodiek, leierskap en dissipline uit te brei. “Die SOS fokus ook op die toepassing van tegnologie in die klaskamer en die gebruik van opvoedkundige programmatuur om onderwysers se klasaanbiedings te komplimenteer.  Die inisiatief is ook ’n noodsaaklike ondersteuningsdiens vir Afrikaanse onderwys met die toenemende druk op Afrikaanse skole in Suid-Afrika en sal self-doen inisiatiewe soos hierdie al meer belangrik word.”